Monday, February 27, 2006

HULDE AAN SARA BAARTMAN

gebed van sara
(vir die khoisan)

in ‘n land van beskaafdes
jy was as frats ingehok
en moes wag, suster baartman
vir die vloek om weg te gaan:

"Jirre, ek is een van djou tjeeners
maarie mense hille algar sê ek is ‘n goggatjie
moetie lat hille my seer- of doodmakie"

maar as verlange jou byt
kon jy gaan na ‘n beter plek
met jou kaalvoet-gebed:

"Jirre, as djy weer reënbooggoggatjies stuur
om te kô kyk of dit genôg gereentit
sê hille ‘seblief om my te kô haal"

toe ferrus* jou oorskot vanuit
die koue daar anderkant bring
en jou vel die afrika-son voel
het ons hulde gebring:

"Jirre, vindag wil ons trug report –
daar’s niks meer om oor te stry
of te wonner oor vergewe en vergeetie…"

want sara ís vry
sý is vry
sy is vrý

* Diana Ferrus is welbekend vir haar gedig oor Sara Baartman. Haar gedig "Vir Sara Baartman" is gepubliseer in die Franse wet wat spesiaal gemaak is om Sara se terugkeer moontlik te maak.

1 Comments:

At 5:12 am , Blogger Selwyn Milborrow said...

Ja, Me Ferrus is 'n goeie vriendin van my. Sy vertrek more na Suriname, Suid Amerika, waar sy gaan deelneem aan die 4de Internationaal Literatuurfestival “Werelden in ontmoeting” in Suriname. Van die gasskrywers is Tan Lioe Ie (Indonesië), Manon Uphoff (Nederland), en Erich Zielinski (Curaocao). Haar digbundel "Ons komvandaan" word vanjaar by die KKNK in Oudtshoorn bekendgestel. Sy gaan ook die storie van Ansella van de Caab vertel. ‘n kortverhaalbundel “Slaan vir my ‘n masker, vader”, saamgestel deur Suzette McKerrom, word ook by die KKNK bekendgestel.

 

Post a Comment

Subscribe to Post Comments [Atom]

<< Home